Oorsprong
Die van Schlebusch het 'n Duitse oorsprong en kom van die Duitse naam vir 'n sekere plant wat in die omgewing gegroei het waar ons voorvaders gebly het (schledoringbos). Die van was oorspronklik "von Schlebusch" wat 'n titel aangedui het. Die Schlebusch familie was van die riddersklas. Die familiegrond was langs die Ryn rivier gelee, tussen Dusseldorf en Keulen. Vandag staan die stad Leverkusen waar die familiegrond was en 'n sekere buurt in die stad staan nog as Schlebusch of Leverkusen-Schlebusch bekend
Lees meer (in Duits) . Die grond wat die ridder besit het was Binnester hof genoem en op die grond was sy kasteel en 'n kapel. Nie die kasteel of kapel staan meer nie maar die plek word wel as 'n gedenkwaardigheid genoteer
Lees meer (in Duits).
(Besoek gerus die webkamera in Leverkusen-Schlebusch om te sien hoe dit nou daar lyk en wat die weerkondiesies is:
Webkamera)
Schlebusch stamouers in SA
Die Schlebusch familie in Suid Afrika het net een stamouer paar, nl. Johannes Antonius Schlebusch (geb. 1767 in Amsterdam) en Gertruida Anna Timmer (geb. 1777 in Haarlem). Johannes Antonius se oupa en sy familie het verhuis in 1730 vanuit die Keulen omgewing (heel moontlik Leverkusen) na Amsterdam.
Die stamouers arriveer in die vroeg 1800s (1805) vanuit Amsterdam aan die Kaap. Ons stamouers het 3 kinders gehad, 2 seuns en een dogter (Johannes, Louwrens Antonie en Elsje Johanna). Al die stamboom inligting is oor die nageslag van Louwrens Antonie. Oor die nageslag van Johannes en Elsje Johanna het ek geen inligting (sover ek weet het Johannes geen kinders gehad).
Ons stamvader se voorgeslag in Nederland en Duitsland
Soos reeds genoem het ons stamvader vanuit Amsterdam na SA gekom maar sy oupa se familie het wel in die Keulen area in Duitsland gebly.
Johannes Antonius (geb. 22 Feb 1767) was een van 7 kinders (4 broers en 3 susters) gebore vir die egpaar Gerhardus Antonius Schlebusch (geb. 13 Jun 1736 begr. 25 Oct 1800) en Anna Christina Beudeker (geb. 23 Sep 1740 begr. 18 Oct 1776). Die 7 kinders is almal in Amsterdam gebore en het daar grootgeword.
Johannes Antonius se pa Gerhardus Antonius was een van 10 kinders wat ook almal in Amsterdam gebore is. Al 10 die kinders is in die Katolieke Kerk "Boompje" in Amsterdam gedoop.
Johannes Antonius se oupa Frans Hendrik of Franz Heinrich (geb. 6 Okt 1700 in Keulen; begr. 26 Sep 1759 in Amsterdam) kom egter vanaf Duitsland naby Keulen. Hy was 'n wynkoper en word op 18 April 1730 in Amsterdam as burger aanvaar. Hy is in Amsterdam met Alida van den Bergh (ged. 25 Des 1707, Amsterdam; begr. 13 Feb 1758) getroud en hulle het saam 10 kinders.
Franz Heinrich (ons stamvader se oupa) was een van 12 kinders van Kaspar Schlebusch en Susanne Holzapfel van Keulen. Kaspar was 'n wynhandelaar in Keulen en verskeie dokumente in die Keulen stadsargief verwys na hom.
Bogenoemde inligting is grootlliks bekom uit 'n boek (Die Familie von Schlebusch und Familien Schlebusch) saamgestel deur 'n Schlebusch navorser in Duitsland, mnr. Hans Schlebusch. Mnr Hans Schlebusch was so gaaf om sy hele boek (jare se navorsing) oor die Schlebusch familie in Duitsland gratis aan my te pos. Ek besit dus 'n hardeband kopie van die Duitse geskiedenis van Schlebusch. Mnr Schlebusch het ook die boek in sagteband gepubliseer maar die boek is lank reeds uit druk. Hy het egter 'n paar sagteband kopiee in sy besit wat ek by hom kan koop. Wanneer ek dit gedoen het sal ek van die kopiee in sekere biblioteke plaas en die inligting hier op die webwerf sit.
In die boek is navorsings notas oor die oorspronklike familie Schlebusch zu Schlebusch. Dit beskryf ook die eerste naamdraer van Schlebusch, Arnoldus de Rode von Schlebuschrode sover terug as 1174. Ek sal meer inligting uit die boek later probeer vrystel.
Die SA Schlebusch stamboom
Hieronder plaas ek al die beskikbare Suid Afrika Schlebusch-afstammeling inligting wat ek het. Lees asb daardeur, en kyk of jy kan sien waar jy in die stambome inpas. Daar is 'n pdf file (stamboom) wat 'n verkorte stamboom is en 'n Word file (NotasWord) of PDF file (NotasPDF). Die "Notas" dokumente het addisionele inligting wat nie op die verkorte stamboom verskyn nie. As jy weet waar jy inpas, mail asb alle moontlike inligting oor jou familie vir my as jy wil bydra. Inligting wat ek gebruik sluit in VOLLE NAME van self, gades en kinders, NOOIENSVANNE van gades, GEBOORTEPLEKKE en DATUMS van almal, STERFTEDATUMS, PLEK WAAR OORLEDE, BEGRAFNISDATUMS, PLEK WAAR BEGRAWE, TROUDATUMS, PLEK WAAR GETROUD, en enige addisionele inligting.
Moet asb ook nie huiwer om my in kennis te stel van foute op my dokumnete nie.
Stamboom (PDF - 83 KB)Notas (Word - 470 KB)Notas (PDF - 145 KB) Hierdie stamboom is opgedateer op:
26 Jun 2007
Ek wil baie graag probeer om soveel as moontlik Schlebusche in Suid Afrika op hierdie stamboom te kry. So help my asseblief om die stamboom te bou deur vir my alle moontlike inligting te stuur en/of deur my webaddress aan jou familie aan te stuur.
Baie dankie vir al die bydraes wat alreeds ontvang is
Carina